Hester van der Walt

klein damask
ingekreukelde
volmaaktheid
styf verpak
jou blaartjies wat al oop is
ruik soos roos moet ruik

alles is een
so sê die wat weet
dood en lewe
oud en jonk
dít perfekte roosknopppie
laat my tóg wonder

bewussyn
die grootste gawe
wonderlik
toegevou
hoe ver is ons nie almal
van die hierwees nie

Advertisements

Hester van der Walt

ʼn smal skrefie oopte

handjies op haar knieë arms gestrek
skouers tot teen haar ore opgetrek

sit sy op die rand van haar kinderbed
so regop as moontlik

hartklop hamerend in haar kop
elke hap na asem weer ʼn probeer

die swart en oranje kapsules
wil vandag nie help nie

wat van vicks vra ma
laat ek net jou rug uit vrywe

halfvyf kom pa van nagskof af
ons moet haar by ʼn dokter kry

die kind se neus vlerk oop en toe
haar borsie fluit en piep
dan hoes sy ʼn prop wit slym los
ʼn ronde pêrel op haar tong

dit skep ʼn smal skrefie oopte
vir asem om te in en asem om te uit

dankie dankie dankie bewe haar lip
vir hoop vir asem vir lewe

later sak sy terug teen die kussings
ma se trooshand vee haar voorkop af

halfsewe tyd vir skool roer julle
gil ma op stefaans rossouw en lucia

jy bly net hier, ek vat jou dokter toe
die kind sê niks sy haal net asem.

Hester van der Walt

Huisbesoek

Aldrie se koppies is nou leeg. Vir ‘n oomblik is dit stil in die sitkamertjie. In die woonstel bokant hulle roep ‘n moeder na haar kinders wat buite op die teerblad speel. Deur die venster spoel die someraand se laaste lig, breekbaar blou en byna teer. Die man skuif ongemaklik rond. Sy swaar lyf soek rusplek in die ligte rottangstoel.

“Hoekom is julle twee so rebels? Dit is nou eenmaal so dat vrouens in ons kerk moet hoede dra. Dis deel van ons tradisie.” Hy kyk ondersoekend van die een vrou na die ander.

Hulle swyg. Die horlosie slaan sewe. Sy gesig word rooi en hy druk twee vingers van sy regterhand tussen sy boordjie en sy nek in. Dan praat die een vrou. Sy kies haar woorde versigtig.

“Hoekom is mense so onverdraagsaam teenoor almal wat nie presies maak soos hulle nie?” Haar vriendin knik instemmend terwyl sy praat. Sy sluk voor sy verder gaan. “Is dit ook die tradisie dat daar net witmense in ons kerk kom? Wat sal julle daarvan dink as ek my bruin vriende saambring kerktoe. Sal hulle welkom wees?”

Aldrie kyk na buite waar die viskar se horing die stilte verbreek. Byna asof hulle verlig is oor die afleiding.

Dan val die man se oog op ‘n groot afdruk teen die muur langs hom. Tretchikoff se twee blinkswart penniefluitjie spelers. Hy kyk vinnig weg, afkeurend. Hy buk en haal ‘n dik boek uit sy aktetas. ‘n Swart boek met rooi afwerking aan die bladsy rand. Hy slaan dit oop en begin rondsoek na die regte plek. Ondertussen praat hy heftig.

“Nee kyk, julle neem dinge darem nou gans te ver. Die Woord sê nou wel dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself, maar dit beteken jy moet jouself eerste liefhê. Wat julle nou wil doen stuur mos af op selfvernietiging!”

Die vroue kyk mekaar aan. Dan lees die man voor uit die Boek, plegtig en afgemete. Sy wysvinger volg die reëls. Sy linkerhand is in ‘n vuis gevorm waarmee hy elke punt beklemtoon deur op die stoel se leuning te slaan.

Die twee vroue swyg. Een trek haar skouers op, terwyl die ander hom in die rede probeer val. Buite lag die spelende kinders en die moeder roep hulle binnetoe. Die man staan op en sluit sy aktetas met besliste gebare. Die vroue kom ook regop en stap solank vooruit. Hy steek sy hand uit en groet hulle om die beurt. Formeel.

Dan is daar ‘n klop aan die voordeur. Die vrou maak oop vir ‘n laggende swart vrou wat haar hartlik omhels.

Hester van der Walt

Een Honderd Woorde van Liefde

Beminde
ewig onwykende Rus
elke dag soek ek na jou.
Saans hoop ek dat jou pers
vingerpunte my oë sal oopmaak
op die melkweg.

Beminde
volg jy my dalk?
Soms voel ek jou asem in my nek,
‘n sagte streling onder my linkeroor,
die gefluister van ‘n sekerheid wat ek
lankal êrens verloor het
in my gejaag na goedwees en slimwees.
Maar soms, net soms

beminde
hoor ek hoe jy my inroep
na jou tafel, al reeds gedek
net hier onder my hart, oorlaai
met vye en heuning, brood
en wyn en granate
op my tafeldoek
van stil wit damask.

(Een Honderd Woorde – dis waar!)