Huisbesoek
Aldrie se koppies is nou leeg. Vir ‘n oomblik is dit stil in die sitkamertjie. In die woonstel bokant hulle roep ‘n moeder na haar kinders wat buite op die teerblad speel. Deur die venster spoel die someraand se laaste lig, breekbaar blou en byna teer. Die man skuif ongemaklik rond. Sy swaar lyf soek rusplek in die ligte rottangstoel.
“Hoekom is julle twee so rebels? Dit is nou eenmaal so dat vrouens in ons kerk moet hoede dra. Dis deel van ons tradisie.” Hy kyk ondersoekend van die een vrou na die ander.
Hulle swyg. Die horlosie slaan sewe. Sy gesig word rooi en hy druk twee vingers van sy regterhand tussen sy boordjie en sy nek in. Dan praat die een vrou. Sy kies haar woorde versigtig.
“Hoekom is mense so onverdraagsaam teenoor almal wat nie presies maak soos hulle nie?” Haar vriendin knik instemmend terwyl sy praat. Sy sluk voor sy verder gaan. “Is dit ook die tradisie dat daar net witmense in ons kerk kom? Wat sal julle daarvan dink as ek my bruin vriende saambring kerktoe. Sal hulle welkom wees?”
Aldrie kyk na buite waar die viskar se horing die stilte verbreek. Byna asof hulle verlig is oor die afleiding.
Dan val die man se oog op ‘n groot afdruk teen die muur langs hom. Tretchikoff se twee blinkswart penniefluitjie spelers. Hy kyk vinnig weg, afkeurend. Hy buk en haal ‘n dik boek uit sy aktetas. ‘n Swart boek met rooi afwerking aan die bladsy rand. Hy slaan dit oop en begin rondsoek na die regte plek. Ondertussen praat hy heftig.
“Nee kyk, julle neem dinge darem nou gans te ver. Die Woord sê nou wel dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself, maar dit beteken jy moet jouself eerste liefhê. Wat julle nou wil doen stuur mos af op selfvernietiging!”
Die vroue kyk mekaar aan. Dan lees die man voor uit die Boek, plegtig en afgemete. Sy wysvinger volg die reëls. Sy linkerhand is in ‘n vuis gevorm waarmee hy elke punt beklemtoon deur op die stoel se leuning te slaan.
Die twee vroue swyg. Een trek haar skouers op, terwyl die ander hom in die rede probeer val. Buite lag die spelende kinders en die moeder roep hulle binnetoe. Die man staan op en sluit sy aktetas met besliste gebare. Die vroue kom ook regop en stap solank vooruit. Hy steek sy hand uit en groet hulle om die beurt. Formeel.
Dan is daar ‘n klop aan die voordeur. Die vrou maak oop vir ‘n laggende swart vrou wat haar hartlik omhels.